home news room contact us




Sandveld stuur 'n SOS
Date : 2005-05-14
Sandveld stuur 'n SOS
Die Burger – 14 Mei 2005
In die Sandveld is 'n ongewone ding aan die gebeur. Dis nie aldag dat bewaringslui, dieowerhede en die landbousektor hande vat in 'n poging om die stand van natuurbronne te verbeter nie. Dié brose samewerking spruit uit 'n groeiende besef dat dié streek weens oorbenutting plek-plek droogloop. Jorisna Bonthuys stel ondersoek in.
HULLE sê sien is glo, maar selfs as 'n mens die skade aan Wadrift (geleë tussen die aartappellande van Lambertsbaai en Elandsbaai) van naderby aanskou, is dit moeilik om te glo wat die afgelope paar jaar in dié geweste gebeur het. Wadrift, voorheen 'n geil vleilandgebied, is nou 'n maanlandskap wat deur sukkulente plante ingeneem word.
Dié situasie -- enersyds die produk van die droogte en andersyds van grootskaalse grondwateronttrekking -- behoort te dien as 'n wekroep vir wat in die res van die Sandveld kan gebeur tensy nóú ingegryp word, meen kenners.
Die grootskaalse onttrekking van grondwater uit dié streek se vernaamste waterdraer vir landbou en in mindere mate munisipale gebruik op die nabygeleë Weskus-dorpe, het in sekere streke 'n geweldige invloed op die gehalte en beskikbaarheid van grondwater -- veral by kleiner grondwaterbronne.
Só sê mnr. Julian Conrad, 'n geohidroloog verbonde aan GEOSS, wat hom toespits op dié gebied. Hy doen navorsing vir die departement van waterwese én die aartappelbedryf.
Volgens Conrad daal grondwatervlakke in dié streek -- dit nestel min of meer tussen Lambertsbaai, Elandsbaai, Graafwater en Aurora -- tans onrusbarend. Dié situasie verskil egter van gebied tot gebied, wat die bestuur daarvan bemoeilik. Van die boere, wat self geen probleme met watervlakke ondervind nie, steur hulle volgens hom nie juis aan waarskuwings hieroor nie.
Ondanks afwykings op sommige plase dui metings grootliks op dieselfde tendens: die beskikbaarheid van grondwater in dele van die Sandveld neem sorgwekkend af te midde van lae reënvalsyfers. Sommige ontleders beskou dié situasie, tesame met heersende biodiversiteitsverliese, as " 'n ontvouende ekologiese ramp".
Van die aanspreeklikheid vir druk op natuurbronne word regstreeks aan die aartappelbedryf toegeskryf. Mense in dié bedryf sê sulke kritiek is ongegrond en selfs onregverdig. Terselfdertyd word van die skuld vir die situasie gepak op die owerhede wat jare lank onvoorwaardelik nuwe landbou-ontwikkelings goedgekeur het.
Besonder swak reënvalsyfers (minder as 100 mm reën per jaar langs die kus) en stygende temperature is die afgelope drie jaar aangeteken en klimaatskenners voorspel weinig verligting .
By Wadrift het die oormatige onttrekking van grondwater (en onbeheerde veldbrande) reeds onherstelbare skade berokken. Dié vleiland, wat letterlik drooggeloop het, het glo byna twee jaar lank ondergronds gebrand ná 'n kortsluiting by 'n boorgatpomp. Die grondoppervlak daarvan het gevolglik sowat twee meter ingesak en dié dooie vleiland kan volgens bewaringsekoloë nie meer herstel word nie.
Dit is egter nie net die situasie by Wadrift -moontlik 'n simptoom van groter ekologiese verval -- wat die gevaarligte moet laat flikker nie. Daar is talle voorbeelde van ander ekosisteme in die Sandveld -- dit is deel van die groter Olifants-Doorn-waterbestuursgebied -- wat onder druk is.
Riviervloei neem af, vleilande en fonteine droog op en strandmere toon tekens van stres, blyk uit bronne van waterwese. Namate grondwatervlakke daal (dit is plek-plek nou al 15 m onder seevlak in onder meer die Wadrift-gebied), begin versouting van varswaterbronne naby Lambertsbaai intree (weens seewater wat boorgate verbrak). Daar is toenemend kommer dat die primêre sandwaterdraer hier kan versout. En op plekke voldoen watergehalte nie meer aan voorkeurstandaarde vir mens en dier nie.
Kenners is onder meer besorg oor die stand van natuurbronne by Verlorenvlei, Die Vlei (Wamakersvlei) en Jakkalsvlei, wat deurloop weens die oorbenutting van waterbronne. Verlorenvlei, wat tussen Elandsbaai en Redelinghuys geleë is, is een van die grootste natuurlike vleilande langs die Weskus en 'n Ramsar-vleilandgebied (dus van wêreldbelang).
Die grootste daling in grondwatervlakke word tans ondervind by Aurora ('n daling van sowat 5 m per jaar) en Wadrift (sowat 1 m per jaar). Die boonste dele van die Langvlei-opvangsgebied toon ook tekens dat grondwatervlakke daal. Naby Redelinghuys is watervlakke weer grootliks stabiel.
Volgens mnr. John Bergh, voorsitter van die Sandveldse Aartappel-kwekersorganisasie (SAKO), het boere egter nog vrae oor van dié resultate en hoe dit gemeet word.
Kenners is veral bekommerd oor die waterbalans in dié gebied.
Daar bestaan vrae oor die presiese hoeveelheid grondwater wat onttrek word, gee mnr. Abdullah Parker van die departement van waterwese gelyk. Soos die meeste dele van die land word watergebruik meestal nie in dié streek deur boere gemeetnie, sê hy. Die huidige verbruik word dus grootliks met satellietbeelde bepaal.
Hoe dit ook al sy: Navorsing toon méér water word jaarliks uit die Sandveld se vernaamste waterdraer onttrek as wat gedurende dieselfde tydperk aangevul word. Dit verander plek-plek in 'n mensgemaakte woestyn, sê party ontleders.
Dit voorspel niks goed vir dorpe in dié gebied nie. Lambertsbaai, Elandsbaai, Graafwater en Leipoldtville is grootliks van grondwater vir hul grootmaat-voorsiening afhanklik.
"Dringende maatreëls is nodig om verdere agteruitgang te stuit -- veral naby Verlorenvlei," meen Conrad. Dié vlei, met sy 177 voëlsoorte waarvan talle bedreigde spesies, is glo tans die droogste tot nog toe. Wat aan die onderkant van opvanggebiede in bogenoemde vleiland-gebiede gebeur, is volgens Conrad net simptomaties van hoe opvanggebiede in die bolope van rivierstelsels bestuur word. Ontleders meen drastiese ingrypings is nodig.
Van die opsies wat genoem word, is moontlike beperkings op verdere landbou-ontwikkelings in die gebied, die instel van 'n verbod op besproeiing gedurende die warmste tye van die dag en selfs die druk somermaande, asook pogings om onwettige waterver bruik stop te sit. 'n Veldtog is ook nodig om verbruikers te oorreed om aartappels te koop van verskaffers wat die beste praktyke toepas en wie se produkte 'n "groen" etiket dra, word gesê.
Boere, die belangrikste verbruikers van grondwater, is ook verantwoordelik vir die bewaring van dié skaars hulpbron. Waterverbruikersverenigings behoort volgens Conrad daarom oral in dieSandveld gestig te word. Pogings hiermee sloer egter al jare. Waterwese pak die skuld hiervoor grootliks op die boere en sê dit is moeiliker om sulke verenigings vir grondwaterbronne as vir oppervlakwaterbronne te vestig, terwyl van die boere (soos Bergh) sê dit is waterwese wat hiermee sloer.
Hoe het die situasie tot hier gevorder? Vanweë die plat landskap, die beskikbaarheid van grondwaterbronne en groot opbrengste het die aartappelbedryf dekades lank in die Sandveld gedy. Met die koms van Eskom-krag in die 1980's het spilpuntbesproeiing drastiese groei in dié bedryf teweeg gebring. Sedertdien het die bedryf hom gevestig as 'n sleutelsektor in die Wes-Kaapse landbou-ekonomie. Boerdery in die streek lewer jaarliks sowat 24 miljoen sakke aartappels (van 10 kg elk) en dra sowat R446 miljoen by tot die provinsiale ekonomie.
Volgens Aartappel SA word 6 765 ha tans hier verbou, waarvan 'n derde benut word vir die verbou ing van moeraartappels en die res vir tafelaartappels. Waar 12 500 ha in 1994 onder sentrale spilpuntbesproeiing was, is dit nou byna 30 000 ha, toon syfers van bewaringslui. Dié gebiede kan volgens hulle nie gerehabiliteer word nie.
Terselfdertyd het die onttrekking van grondwaterbronne in die gebied aansienlik toegeneem. Waar sowat 12 miljoen m3 grondwater per seisoen byvoorbeeld in 1998 deur boere onttrek is, het dié syfer toegeneem tot sowat 18 miljoen m3 in 2002. Weens die lae reënval en die gebrek aan oppervlakwater moet groot hoeveelhede grondwater vir landbou hier onttrek word.
Om risiko's met aartappelgewasse te beperk, word die reuse-sirkels waarin aartappels onder spilpuntbesproeiing geplant word, al om die vier tot vyf jaar gewissel. Nuwe lande word daarom gereeld ontwikkel om in die groeiende vraag na aartappels te voorsien.
Hoewel ál meer stemme opklink vir boere om nie heeljaar aartappels te plant nie -- in 'n poging om van hardnekkige plantvirusse hier ontslae te raak -- val dié waarskuwing steeds grootliks op dooie ore. Daarvoor is markkragte net te sterk.
Hoe sien mense in die aartappelbedryf die watersituasie? Mnr. Terence Brown, streekbestuurder van Aartappel SA, betwis kritiek dat die bedryf onverantwoordelik optree wat natuurbronne betref. " Gevestigde bestuurstrukture bestaan reeds en ons betaal kenners om ons waterbronne te help monitor. Dit is ook nie die boere se skuld as dit nie reën nie. Dit beteken egter nie dat ons nie besorg is daaroor nie. Goeie buie sal help om ons waterprobleme grootliks op te los."
Brown meen dit is "gewoon onwaar" dat die hele Sandveld verdor. "Mens kan nie veralgemenings oor die Sandveld óf die bedryf maak nie, aangesien die situasie verskil van streek tot streek. Ontleed mens die syfers, sien jy daar is wél groot probleme in vier van die twaalf aartappelstreke (waaronder Lambertsbaai en Elandsbaai). In die res verloop sake egter bevredigend."
Ook Bergh betwis aansprake dat die Sandveld verdor weens oormatige grondwateronttrekking. Hy sê egter SAKO is "uiters bekommerd" oor die heersende watersituasie en glo die onus rus nou op waterwese om oortreders vas te vat. Die "onoordeelkundige skoonmaak van veld" kom wel voor, sê hy.
Me. Rina Theron, 'n moerkweker van die plaas Aan het Berg naby Leipoldtville, sê: "Die prys wat die ekologie tans betaal vir ekonomiese vooruitgang is nog nie na behore verreken nie. Myns insiens het die situasie al reeds te ver gevorder. Die meeste boere glo steeds dat as ons 'n goeie reënjaar het, ons probleme sal verdwyn. Intussen beleef die Weskus sigbare klimaatsveranderings."
Parker waarsku dat maatreëls nóú nodig is om verdere druk op grondwaterbronne, en ekosisteme wat daarvan afhanklik is, te stuit. "Ons moet ook 'n beperking oorweeg op verdere landbou-uitbreidings as bykomende grondwater daarvoor benodig word," sê hy.
Volgens aanduidings oorskr y talle boere hul waterlisensie-voorwaardes. Owerhede bekyk glo reeds die instel van die "blou" Skerpioene wat op waterkwessies hier sal fokus.
"Só kan dinge eenvoudig nie veel langer voortgaan nie," sê Parker. . Die nasionale departement van landbou het teen druktyd nog nie op navrae oor die kwessie gereageer nie.
Natuurlike habitat word 'woestyn' van aartappelboerdery
IN die Sandveld word natuurlike habitat al hoe meer omgedolwe weens grootskaalse landboubedrywighede, veral aartappelboerdery.
Dié streek lê in die noordwestelike hoek van Suid-Afrika se unieke Kaapse planteryk, wat 'n Wêrelderfenisgebied en 'n biodiversiteitsbrandpunt van wêreldbelang is.
Dit verteenwoordig ook die westelike deel van die Groter Sederberg-biodiversiteitskorridor. Bewaringslui probeer om dié korridor -- 'n aaneenlopende ekologiese gebied wat van die Weskus tot die Tankwa-Karoo strek -- met die hulp van private grondeienaars onder bewaringsbestuur te plaas.
Te midde van versigtige optimisme oor bewaringsaksies wat met die korridor-projek verband hou, is daar ook kommer oor die toekoms van natuurbronne in dié gebied. Boerdery het die afgelope paar jaar met rasse skrede toegeneem en neem reeds glo onvolhoubare afmetings aan, word gesê.
Uit ontledings blyk die natuurlike habitat van die gebied is reeds ingrypend gewysig weens menslike bedrywighede. Die afgelope 12 jaar is jaarliks gemiddeld 974 ha inheemse habitat omgeploeg om plek te maak vir aartappelsirkels en rooibostee-aanplantings wat nie onder besproeiing verbou word nie (gemiddeld 2,7 ha veld per dag).
Sowat 85 600 ha, waarvan 11 692 ha net sedert 1989 ontwikkel is, is reeds onder aartappelboerdery. Dit verteenwoordig 39% van die Sandveld.
Voorts is sowat 80% van alle aansoeke om natuurlike veld in die Wes-Kaap te ontbos, glo uit dié geweste afkomstig. Bewaringslui is ook bekommerd oor die voorkoms van onwettige ontbossing in die Sandveld. Die invloed hiervan op biodiversiteit is glo verreikend.
Luidens 'n onlangse voorlegging van die departement van landbou is sowat 50 gevalle van onwettige landbou-ontwikkelings na verneem word vroeër met 'n helikopter-oorvlug in die Sandveld bespeur.
Die hele gebied word in mindere of meerdere mate bedreig deur onverantwoordelike ontwikkelings, sê kenners. Daar is byvoorbeeld net 45% oor van die oorspronklike verspreidingsgebied van Leipoldtville-sandfynbos, een van die mees bedreigde planttipes in die Sandveld. Enige verdere verlies sal die voortbestaan van dié unieke plantegroei onherroeplik beï nvloed.
Naas kommer oor biodiversiteitsverliese is daar ook kommer oor die "onomkeerbare effek" op ekosisteme weens die grootskaalse onttrekking van grondwaterbronne.
Bewaringsekoloë meen te min dele van die Sandveld geniet tans bewaringstatus. Behoorlike bestuur in samewerking met alle rolspelers is nodig om verdere habitatverlies te voorkom.
Om die heersende druk op natuurbronne te verlig, is die Sandveld-taakspan vroeër gestig. Dié taakspan -- 'n vennootskap wat samewerking tussen al die rolspelers bevorder -- bestaan onder meer uit Aartappel SA, die rooibosbedryf, die departemente van landbou, waterwese, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Botsoc, asook plaaslike owerhede.
Volgens mnr. Johan Burger van CapeNature wat ook die koördineerder van dié taakspan is, probeer hulle om met kreatiewe oplossings vorendag te kom wat volhoubare ontwikkeling kan bevorder, maar terselfdertyd verdere agteruitgang van natuurbronne kan stuit.
'n Voorbeeld van só 'n oplossing is 'n gebiedsbeplanningsproses. Dit behels die kartering van huidige en toekomstige patrone van grondgebruik, asook die skep van 'n databasis vir die Sandveld . Dit sal besluite oor toekomstige ontwikkelings beï nvloed. Planne word ook beraam vir 'n waterverbruikersforum en 'n voogdyskapprogram as deel van pogings om die bewaringskorridor te vestig.

Download document