home news room contact us




Boer in balans met die natuur
Date : 2007-04-05
Kan die aartappelbedryf van die Sandveld en volhoubaarheid in een asem genoem word?
Ja, maar dan is dit tyd om wakker te skrik. So sę Aartappel Suid-Afrika (ASA), die Groter Cederberg Biodiversiteit Corridor (GCBC) en heelwat ander groot kanonne wat tans hulle geld en tyd opoffer om ’n projek op die been te kry waarvolgens die aartappelbedryf volgens volhoubare beginsels bedryf kan word. Hulle noem dit die aartappel beste praktyke-projek.
“Ek is in my noppies, want groot kettingsupermarkte is selfs bereid om na die tafel te kom met voorstelle vir meer omgewingsvriendelike aartappels op hulle rakke. Dit is tyd daarvoor dat ’n daar ’n groen plakker op aartappelsakkies verskyn. En die boere wat bereid is om hulle ondersteuning te gee aan die beste praktyke-projek, gaan op die lang duur daarby baat vind,” volgens Jaco Venter, projekkoördineerder van die GCBC.
Volgens John Bergh, voorsitter van die ASA (Sandveld-streek), is dit ’n projek wat deur verantwoordelike boere ondersteun sal word om erkenning te gee aan hierdie reuse verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus.
“Al kan ons dit bloot net regkry om hierdie projek te implementeer en monitor, sal dit ’n
wonderlike ding wees. Ek wil nie hę ons streek moet binnekort lyk soos die Rűens of Stellenbosch-omgewing nie, alles is gekultiveerd, daar is nie veel natuurlike habitat oor nie. Ek vra dus, aanvaar hierdie verantwoordelikheid en klim op die bewaringswa,” aldus Bergh.
“Dit gaan oor volhoubare aartappelproduksie: ekonomiese groei en ontwikkeling in balans met die natuurlike hulpbronne op jou plaas, sodat jou nageslag ook nog op daardie plaas kan boer. Binnekort gaan hierdie tipe boerdery ook bemarkingsvoordele inhou. Die internasionale tendens is dat daar al meer gefokus word op die naspeurbaarheid van jou produk. Verbruikers gaan begin soek na die groen plakker op die sakkie aartappels voor hulle dit koop,” sę Terence Brown, Wes-Kaapse streekbestuurder van ASA op Piketberg.

Hoe gaan die aartappel beste praktyke-projek aangepak word?
’n Taakspan is reeds op die been gebring om die aartappel beste praktyke-projek te laat afskop. Op hierdie span dien John Bergh, Terence Brown, Joost Engelbrecht, Arthur Melck, Piet Brink, asook Johan Burger van CapeNature en Jaco Venter van die GCBC.
Joost Engelbrecht, voorsitter van dié Sandveld-taakspan, voel besonder positief oor die aartappel beste praktyke-projek. Hy voel boere is mense wat heeldag in die natuur werk, daarom besef hulle die belangrikheid om in balans met die natuur te boer.
Tog gaan dit nie net by beplanning bly nie, want reeds in April vanjaar sal ’n konsultant aangestel word om hierdie beste praktyke-projek te help implementeer op vrywillige boere in die Sandveld se plase.

Hoekom is bewaring van die Sandveld so noodsaaklik?
Die Sandveld is ’n gebied wat dikwels in die verlede in die pers gestriem is vir die manier waarop hulle met aartappels boer en talle vrae oor die volhoubaarheid van hierdie bedryf word gereeld gevra.
Dit is ’n feit soos ’n koei dat daar geweldige druk is op die habitat en grondwater van die Sandveld.
Die Sandveld is die tuiste van hoogs bedreigde spesies, soos die Kaapse Goue Mol, die Bergrivier Rooivlerkie (vis), die Gespikkelde Padloper, die kleinste skilpadjie ter węreld, asook 36 Rooi Data-plantspesies.
Nog meer belangrik is die feit dat die natuurlike habitat in hierdie gebied ’n uiters belangrike hoogland-laagland corridor vorm vir die beweging van boksoorte en die luiperd van en na die hoogliggende berggedeeltes gedurende seisoensweiding periodes.
Die aanplant van aartappels en rooibos het daartoe gelei dat groot dele van hierdie sensitiewe gebied in die slag gebly het en dit is tans een van die mees bedreigde eko-sisteme in Suid-Afrika.

Wat is die doel van die projek?
Hierdie projek is ’n hernieude poging om wedersydse vertroue en samewerking tussen die aartappelbedryf en natuurbewaring te bewerkstellig.
“Hierdie samesprekinge tussen die boere en natuurbewaring het uitgewys dat daar dalk voorheen ’n kommunikasiegaping was tussen die verskillende partye. Toe ons om ’n tafel gaan sit en gesels, het ons agtergekom ons werk eintlik in dieselfde rigting,” aldus Joost Engelbrecht.
Vir die GCBC en ASA is dit ewe belangrik om te werk in die rigting van ’n volhoubare aartappelbedryf – sodat die aartappelboere wat nou in die Sandveld boer, se kinders ook nog daar sal kan boer.
Sandveldse boere wat hulle gewig by hierdie projek wil ingooi, sal hulleself daartoe moet verbind om natuurbewaring as deel van hulle oorkoepelende bestuursplan te aanvaar.
Die hoofoogmerke van die projek is om te verhoed dat daar meer bedreigde habitat verlore raak, dat watergebruiksmaatreëls neergelę word, dat grond in die sleutel corridor-gebiede opsy gesit word, om die beste praktyke volgens biodiversiteitsbeginsels in te stel en hulleself bloot te stel aan goeie bestuur van die bedryf.

Download document